GRATIS motivering/opleiding vir Kinderbediening

“Ons mense se knieë raak lam, hoe kan ʼn ou hulle motiveer?” So vra ʼn bedroefde jeugdominee. Lam knieë is ʼn algemene tendens wanneer die pad vorentoe vaal en onduidelik is.Motivering

Die antwoord lê in OPLEIDING: ʼn informele en prettige gespreksgeleentheid waar die roete op die snelweg beplan word. Dit sit ook sommer skop in die kop. Want dis mos dáár waar die lamheid begin.

FXit bring hierdie produk GRATIS vir almal wat genoeg energie het om ʼn paar knoppies te druk:

Gaan na www.fxit.co.za. Beweeg na bestellings en vul jou besonderhede in. Kies e-boek weergawes en aanvaar die terme. Tik 1 by Motiveringsessie vir aanbieders. Klik by I’m not a robot en stuur.

(Die webwerf is beveilig met SSL registrasie om die gebruiker te beskerm.)

Kontakbesonderhede: info@fxit.co.za.

Lesse vir Kersfees en vir 2020

As ek reg hoor, soek mense iets nuuts en anders – iets wat die moderne kind op ʼn moderne manier aanspreek. Terselfdertyd moet die produk verbruikersvriendelik wees: maklik om aan te bied en voor te berei.kinders

FXit lesreekse vir graad R tot 11 voldoen aan hierdie kwaliteite. Dit bestaan uit meer as twintig produkte, waarvan vyf in Engels.

Die adventreeks met PowerPoint is op hierdie stadium baie gewild. Dis lewendig en kleurvol en slegs R150 vir die reeks van drie.

Besoek www.fxit.co.za vir meer info en bestelvorm. Of kontak info@fxit.co.za. 

Edutainment werk – ook in die kerk

Om die jeug te entertain met die doel om getalle te trek het al in baie gevalle kerkkultuur geword Dis die grootste tragedie wat jeugbediening wêreldwyd getref het.

fxit 1

Maar geluk by die ongeluk: Dit het mense wat ʼn passie het om die Woord as Goddelike waarheid aan die jeug oor te dra, met ʼn nuwe bril na beter leertegnieke laat kyk.

Lekker-leer is meer effektief. “Joyous states allow us to flourish and to feel well-being. Moments of pleasure may mark learning at its best” (Daniel Goleman in SOCIAL INTELLIGENCE).

Edutainment (educational entertainment) en infotainment het nagenoeg dieselfde doel, naamlik om leerinhoud (feite of boodskap) so oor te dra dat die leerder dit as aangenaam ervaar. Indien reg toegepas, is hierdie metode vir seker meer produktief as die konvensionele verbale oordrag.

Gratis voorbeelde van edutainment vir skool en Sondagskool by www.fxit.co.za.

Volledige Bybelkurrikulum vir Sondagskole en Christenskole

FXit programme is vanuit die praktyk ontwikkel, deur kundiges geëvalueer en kommunikeer geloofswaarhede op die begripsvlak van elke ouderdomsgroep.9.01.19

Die volledige pakket in Afrikaans vir gr R tot 11 is slegs R2 530 – geen addisionele aankope nodig. Prys van handleidings:  R150 tot R160 elk.

Voorbeeldlesse uit elke boek is gratis beskikbaar by http://www.fxit.co.za.

DIS MY STORIE – 6: Skryfseisoene

Wag en hoop… Enige skrywer verstaan hoe dit voel om te wag vir reaksie van die uitgewers nadat jy jou harde werk gepos het (lank gelede, toe die poskantoor gewerk het). Ek het my eerste manuskrip gestuur sonder om vooraf enigsins met NG Kerkuitgewers te kontak. MyStorie 6

“Jou manuskrip is aanvaar, Mevrou, veels geluk. Dis die eerste handleiding vir huisgodsdiens op die mark en ons is opgewonde daaroor. Wat van ʼn opvolg – sien jy kans?”

Die eerste manuskrip is op die tweedehandse tikmasjientjie gedoen wat by Antique Basaars gekoop is. Die tweede een het ek op die kerkkantoor se elektriese masjien gaan tik – Dinsdae en Donderdae wanneer oom Josef nie daar was nie. In ʼn vertrek sonder son, in die winter, op Clocolan in die Vrystaat. Vir seker my koudste skryfseisoen.

Daar kom toe ʼn tyd wat ek nie meer kans sien om manuskripte aan uitgewers te stuur nie. Die eindproduk was nie altyd wat ek in gedagte gehad het nie en die vergoeding ook nie.

Ek begin toe fokus op die opstel van lesmateriaal vir kinder- en jeugbediening, ʼn veld waarop ek en my man deurentyd baie aktief was. Ons hart se punt.

In 1999 nader die Vrystaatse Vrouediens saam met die Sinodale jeugkommissie my met die versoek om lesse vir die destydse Kinderkrans te skryf. Tall order. Hóe tall, sou ek mettertyd uitvind.

Dit het toe nie by Kinderkranslesse gebly nie. Ook nie net in die Vrystaat nie. Daar kom later versoeke vir tienermateriaal en vir ʼn chronologiese weergawe van gebeure uit die Ou Testament vir kleiner kinders. Want “ons kinders ken nie meer die Bybelname en geskiedenis nie”.

Vir meer as sewentien jaar het dit my voltyds besig gehou. Harde werk, maar dubbel en dwars die “moeite” werd. Intussen, vanaf 2004, word die FXit reeks van meer as 20 produkte ook as Sondagskoolmateriaal deur Bybelmedia bemark. Ek het ook versendings na heelwat kerke en gemeentes in die buiteland gestuur.

Mense vra soms of ek dieselfde keuses sou maak as ek my lewe kon oorhê. Dan vra ek watter keuses? Dit het nooit gevoel of ek bewuste keuses maak nie. Ek was maar net die insittende van ʼn voertuig met God aan die stuur. By tye was die uitsig dynserig en dan het genade vir my soos ʼn ramp gelyk. Dis juis daardie “ongemaklike” genade wat my deur al die seisoene van groei op koers kon hou.

As ek op die winterkoue gly wink lente reeds op die kim

seisoene vloei saam

tot ʼn enkele baan

op pad na vreemde bestemmings

Wys die regte pad my aan 

wees U die stem wat my tot omdraai roep as ek my eie koers wil gaan

DIS MY STORIE – 5: Seisoene van groei

Ek kan nie onthou hoe lank ek toe vir my eerste Bybel gespaar het nie, maar was in die sewende hemel toe ek hom kry.MyStorie 5

Gretig begin ek toe lees, vanaf Genesis, elke dag twee hoofstukke. Of ek verstaan wat ek lees, het my nie gepla nie. Om een of ander rede was dit my droom om die Bybel deur te lees. Ek onthou nie wat die rasionaal was nie, en of ek hoegenaamd ʼn logiese verklaring vir hierdie heilige ambisie gehad het nie.

Dit moes my ma beïndruk het. Ek onthou hoe sy eendag gespog het toe ons by tannie Johanna-hulle op Kuilsrivier kuier: “Johanna kan jy glo, die kind het die hele Bybel al twee keer deurgelees.”

Toe het ek dit nie besef nie, maar nou verstaan ek dat dit ook deel van my voorbereiding was. (Ek verstaan ook dat die tremor deel daarvan was, anders het ek nie leer tik nie. Of ʼn wake-up call gekry om te skryf nie.)

Soos die jare aanstap, het ek my Vader beter leer ken. In mooi dae en moeilike dae; in verhoudings met goeie en mindergoeie mense, in die kerk en op straat, in tye van tremor en trauma, ja ook in die huwelik.

Die dag van my mondigwording was ook my troudag. Die kaas-en-wyn onthaal was op my ouers se plaas in die Tradouwvallei in die Barrydale-omgewing. Koos was toe ʼn finalejaar teologiese student en ek werk toe al vier maande lank. Ons moes op my salaris van R128 per maand oorleef, waarvan R30 vir woonstelhuur moes gaan en R40 vir studieskuld.

ʼn Liter melk was 8c. Jy sit die bottel met die blou koepon(s) die vorige aand uit, dan word die melk op jou stoep afgelewer. Die tannie in wie se agterplaas ons blyplekkie was, het ons melk in haar yskas gebêre totdat ons kom.

Toe, eendag… Dit was einde van die maand en ek het salaris gekry. Kon ʼn klompie kruideniers koop. Kom toe met die pakkaas plus die melk wat ek gaan haal het by die kombuisdeur. Met die gesukkel om die deur oop te kry, val ek toe met die melk in die huis! Daar lê die bottel aan skerwe en die melk loop in slootjies in die voue van die vloerplanke.

Ek huil snot en trane oor die 8c se skade. My nuwe man, wat in die kamer gesit en swot het, loer om die deur. Ek verwag dat hy my in sy arms neem en liefderyk troos (dis tog wat op die flieks gebeur). Maar hy verdwyn en toe ek weer sien, mik hy na my met sy kamera! My droefheid het vir hom in so ʼn mate geamuseer dat hy die oomblik moes vaslê. Red nou ʼn huwelik. Vir daai foto het ons en ons kinders al baie gelag

Ek dink dat ons lewe saam in die bediening seker my belangrikste seisoen van voorbereiding was. My man was nie net my beste pêl nie, maar ook die een wat my gehelp het om lief te word vir die Bybel en om dieper te delf.

DIS MY STORIE – 4: Die Belegging

In Oranjevallei, ons eerste gemeente, was daar ʼn oom wat van sy kar se walking shobbers gepraat het. Ons het afgelei dat hy na die skokbrekers (shock absorbers) verwys. Die medikasie vir my tremor het my walking shobbers in so ʼn mate gestabiliseer dat ek weer kon skryf. Ek wou skryf, soos in boeke publiseer. Maar, soos ek voorheen verduidelik het, skryf het ʼn aanloop. ʼn Boom gaan deur ʼn paar seisoene voordat hy vrugte dra.MyStorie 4

Toe ek ongeveer in standerd een was, sien ek eendag in ʼn winkel op Swellendam so ʼn klein vet Bybeltjie, te cute. Vyf sjielings (50c). Ek begin spaar.

Oupa en ouma het op Heidelberg in die Wes-Kaap gebly. Hy was ʼn bouer – en sommer ook vir dieselfde prys ‘n argitek. (Glo dit as jy wil, hy was net tot sub A in die skool.) Hy het ook die stadsaal in 1913 gebou, vandag ʼn historiese gebou met ouwêreldse glorie.

Oupa Tien (afgelei van Martinus) het altyd op die hortjiesbank op die voorstoep gesit en pyp rook. Die rook het vir my baie lekker geruik. Hy’t min gepraat. Ek en my sussie het elke keer geweet hy gaan ons na mister Pew toe stuur. Mister en missies Pew het in die woonstel teen die huis gebly.

Jy loop net om die hoek van die stoep om by die woonsteldeur te kom, maar Oupa moes altyd aanpor: “Toe loop nou, wat staan julle nog?” Hulle sê behoeftes is die sterkste motiveerder vir menslike gedrag. My behoefte aan wat ek uit hierdie poging kon kry was sterker as my ongemaklikheid met die vreemde Engelsman.

Klop, staan beleefd terug. Mister Pew se delikate brilletjie trek skeef as hy sy hand voor sy oë lig om teen die skerp lig te kyk. “Good morning, mister Pew, our grandfather told us you want to see us.” Sonder om ʼn woord te sê draai hy om. Ek rek my nek om te kyk hoe dit binne lyk, maar sien nie verder as die vertoonkas nie. In die spookskemer staan twee engeltjies met poeierblou vlerkies, vasgekeer. Asof hulle hoop ons kom hulle red.

Mister Pew kom terug en sit ʼn sjieling in my hand. “Sê jou oupa moet dit vir julle deurbyt.” Sy uitspraak was moeilik om te volg, maar ons spreek ons opregte dank uit en is terug na Oupa toe. Hy vat die sjieling, haal tydsaam sy beursie uit sy broeksak, maak dit amper eerbiedig oop (geld was toe baie skaars) en kom met twee sikspense te voorskyn (ʼn sjieling was tien sent werd en ʼn sikspens vyf sent.)

So het oupa Tien mister Pew se sjieling vir ons “deurgebyt”.

My pa was ʼn sagtevrugteboer in die Barrydale-omgewing. Hy het ook gedroogde pruimedante aan die SAD gelewer. As die vrugte ryp word, val dit af. Ek en die plaaswerkers se kinders het ywerig vrugte opgetel en ʼn goeie loon gekry, ʼn tiekie (2½c) per week. Die belegging in my spaarbussie het gegroei… (Ek vertel volgende keer verder.)

Bybelprogramme vir vandag se kind en tiener: http://www.fxit.co.za