DIS MY STORIE – 6: Skryfseisoene

Wag en hoop… Enige skrywer verstaan hoe dit voel om te wag vir reaksie van die uitgewers nadat jy jou harde werk gepos het (lank gelede, toe die poskantoor gewerk het). Ek het my eerste manuskrip gestuur sonder om vooraf enigsins met NG Kerkuitgewers te kontak. MyStorie 6

“Jou manuskrip is aanvaar, Mevrou, veels geluk. Dis die eerste handleiding vir huisgodsdiens op die mark en ons is opgewonde daaroor. Wat van ʼn opvolg – sien jy kans?”

Die eerste manuskrip is op die tweedehandse tikmasjientjie gedoen wat by Antique Basaars gekoop is. Die tweede een het ek op die kerkkantoor se elektriese masjien gaan tik – Dinsdae en Donderdae wanneer oom Josef nie daar was nie. In ʼn vertrek sonder son, in die winter, op Clocolan in die Vrystaat. Vir seker my koudste skryfseisoen.

Daar kom toe ʼn tyd wat ek nie meer kans sien om manuskripte aan uitgewers te stuur nie. Die eindproduk was nie altyd wat ek in gedagte gehad het nie en die vergoeding ook nie.

Ek begin toe fokus op die opstel van lesmateriaal vir kinder- en jeugbediening, ʼn veld waarop ek en my man deurentyd baie aktief was. Ons hart se punt.

In 1999 nader die Vrystaatse Vrouediens saam met die Sinodale jeugkommissie my met die versoek om lesse vir die destydse Kinderkrans te skryf. Tall order. Hóe tall, sou ek mettertyd uitvind.

Dit het toe nie by Kinderkranslesse gebly nie. Ook nie net in die Vrystaat nie. Daar kom later versoeke vir tienermateriaal en vir ʼn chronologiese weergawe van gebeure uit die Ou Testament vir kleiner kinders. Want “ons kinders ken nie meer die Bybelname en geskiedenis nie”.

Vir meer as sewentien jaar het dit my voltyds besig gehou. Harde werk, maar dubbel en dwars die “moeite” werd. Intussen, vanaf 2004, word die FXit reeks van meer as 20 produkte ook as Sondagskoolmateriaal deur Bybelmedia bemark. Ek het ook versendings na heelwat kerke en gemeentes in die buiteland gestuur.

Mense vra soms of ek dieselfde keuses sou maak as ek my lewe kon oorhê. Dan vra ek watter keuses? Dit het nooit gevoel of ek bewuste keuses maak nie. Ek was maar net die insittende van ʼn voertuig met God aan die stuur. By tye was die uitsig dynserig en dan het genade vir my soos ʼn ramp gelyk. Dis juis daardie “ongemaklike” genade wat my deur al die seisoene van groei op koers kon hou.

As ek op die winterkoue gly wink lente reeds op die kim

seisoene vloei saam

tot ʼn enkele baan

op pad na vreemde bestemmings

Wys die regte pad my aan 

wees U die stem wat my tot omdraai roep as ek my eie koers wil gaan

Advertisements

DIS MY STORIE – 5: Seisoene van groei

Ek kan nie onthou hoe lank ek toe vir my eerste Bybel gespaar het nie, maar was in die sewende hemel toe ek hom kry.MyStorie 5

Gretig begin ek toe lees, vanaf Genesis, elke dag twee hoofstukke. Of ek verstaan wat ek lees, het my nie gepla nie. Om een of ander rede was dit my droom om die Bybel deur te lees. Ek onthou nie wat die rasionaal was nie, en of ek hoegenaamd ʼn logiese verklaring vir hierdie heilige ambisie gehad het nie.

Dit moes my ma beïndruk het. Ek onthou hoe sy eendag gespog het toe ons by tannie Johanna-hulle op Kuilsrivier kuier: “Johanna kan jy glo, die kind het die hele Bybel al twee keer deurgelees.”

Toe het ek dit nie besef nie, maar nou verstaan ek dat dit ook deel van my voorbereiding was. (Ek verstaan ook dat die tremor deel daarvan was, anders het ek nie leer tik nie. Of ʼn wake-up call gekry om te skryf nie.)

Soos die jare aanstap, het ek my Vader beter leer ken. In mooi dae en moeilike dae; in verhoudings met goeie en mindergoeie mense, in die kerk en op straat, in tye van tremor en trauma, ja ook in die huwelik.

Die dag van my mondigwording was ook my troudag. Die kaas-en-wyn onthaal was op my ouers se plaas in die Tradouwvallei in die Barrydale-omgewing. Koos was toe ʼn finalejaar teologiese student en ek werk toe al vier maande lank. Ons moes op my salaris van R128 per maand oorleef, waarvan R30 vir woonstelhuur moes gaan en R40 vir studieskuld.

ʼn Liter melk was 8c. Jy sit die bottel met die blou koepon(s) die vorige aand uit, dan word die melk op jou stoep afgelewer. Die tannie in wie se agterplaas ons blyplekkie was, het ons melk in haar yskas gebêre totdat ons kom.

Toe, eendag… Dit was einde van die maand en ek het salaris gekry. Kon ʼn klompie kruideniers koop. Kom toe met die pakkaas plus die melk wat ek gaan haal het by die kombuisdeur. Met die gesukkel om die deur oop te kry, val ek toe met die melk in die huis! Daar lê die bottel aan skerwe en die melk loop in slootjies in die voue van die vloerplanke.

Ek huil snot en trane oor die 8c se skade. My nuwe man, wat in die kamer gesit en swot het, loer om die deur. Ek verwag dat hy my in sy arms neem en liefderyk troos (dis tog wat op die flieks gebeur). Maar hy verdwyn en toe ek weer sien, mik hy na my met sy kamera! My droefheid het vir hom in so ʼn mate geamuseer dat hy die oomblik moes vaslê. Red nou ʼn huwelik. Vir daai foto het ons en ons kinders al baie gelag

Ek dink dat ons lewe saam in die bediening seker my belangrikste seisoen van voorbereiding was. My man was nie net my beste pêl nie, maar ook die een wat my gehelp het om lief te word vir die Bybel en om dieper te delf.

DIS MY STORIE – 4: Die Belegging

In Oranjevallei, ons eerste gemeente, was daar ʼn oom wat van sy kar se walking shobbers gepraat het. Ons het afgelei dat hy na die skokbrekers (shock absorbers) verwys. Die medikasie vir my tremor het my walking shobbers in so ʼn mate gestabiliseer dat ek weer kon skryf. Ek wou skryf, soos in boeke publiseer. Maar, soos ek voorheen verduidelik het, skryf het ʼn aanloop. ʼn Boom gaan deur ʼn paar seisoene voordat hy vrugte dra.MyStorie 4

Toe ek ongeveer in standerd een was, sien ek eendag in ʼn winkel op Swellendam so ʼn klein vet Bybeltjie, te cute. Vyf sjielings (50c). Ek begin spaar.

Oupa en ouma het op Heidelberg in die Wes-Kaap gebly. Hy was ʼn bouer – en sommer ook vir dieselfde prys ‘n argitek. (Glo dit as jy wil, hy was net tot sub A in die skool.) Hy het ook die stadsaal in 1913 gebou, vandag ʼn historiese gebou met ouwêreldse glorie.

Oupa Tien (afgelei van Martinus) het altyd op die hortjiesbank op die voorstoep gesit en pyp rook. Die rook het vir my baie lekker geruik. Hy’t min gepraat. Ek en my sussie het elke keer geweet hy gaan ons na mister Pew toe stuur. Mister en missies Pew het in die woonstel teen die huis gebly.

Jy loop net om die hoek van die stoep om by die woonsteldeur te kom, maar Oupa moes altyd aanpor: “Toe loop nou, wat staan julle nog?” Hulle sê behoeftes is die sterkste motiveerder vir menslike gedrag. My behoefte aan wat ek uit hierdie poging kon kry was sterker as my ongemaklikheid met die vreemde Engelsman.

Klop, staan beleefd terug. Mister Pew se delikate brilletjie trek skeef as hy sy hand voor sy oë lig om teen die skerp lig te kyk. “Good morning, mister Pew, our grandfather told us you want to see us.” Sonder om ʼn woord te sê draai hy om. Ek rek my nek om te kyk hoe dit binne lyk, maar sien nie verder as die vertoonkas nie. In die spookskemer staan twee engeltjies met poeierblou vlerkies, vasgekeer. Asof hulle hoop ons kom hulle red.

Mister Pew kom terug en sit ʼn sjieling in my hand. “Sê jou oupa moet dit vir julle deurbyt.” Sy uitspraak was moeilik om te volg, maar ons spreek ons opregte dank uit en is terug na Oupa toe. Hy vat die sjieling, haal tydsaam sy beursie uit sy broeksak, maak dit amper eerbiedig oop (geld was toe baie skaars) en kom met twee sikspense te voorskyn (ʼn sjieling was tien sent werd en ʼn sikspens vyf sent.)

So het oupa Tien mister Pew se sjieling vir ons “deurgebyt”.

My pa was ʼn sagtevrugteboer in die Barrydale-omgewing. Hy het ook gedroogde pruimedante aan die SAD gelewer. As die vrugte ryp word, val dit af. Ek en die plaaswerkers se kinders het ywerig vrugte opgetel en ʼn goeie loon gekry, ʼn tiekie (2½c) per week. Die belegging in my spaarbussie het gegroei… (Ek vertel volgende keer verder.)

Bybelprogramme vir vandag se kind en tiener: http://www.fxit.co.za

DIS MY STORIE – 3: ʼn Pil wat werk

DIS MY STORIE – 3: As gevolg van die tremor in my hande kon ek nie skryf nie en my man het vir my ʼn antiekerige ou tikmasjientjie gekoop. Ek is later vir toetse na die neurologie-afdeling van die Nasionale hospitaal in Bloemfontein.MyStorie 3

Die neuroloog begin sommer dadelik met die eerste toetse. Onder andere moes ek ten benevolent elephants vyf keer herhaal. Plus ʼn paar motoriese- en balanstoertjies. Ek kry toe volpunte vir die eerste toetreeks. Voilá!

Die aanvanklike diagnose – wat ná ʼn week se observasie en eksperimente dieselfde gebly het – was dat spanning geen rol speel nie. Want hulle lei af dat my man my liefhet (sy geskenk van die tikmasjien moes hulle hiervan oortuig het), die vier kleintjies is woelig maar normaal, die hond is gepottietrein en die kar is betaal.

Die toestand word toe geformuleer as essensiële tremor, omdat die oorsaak nie vasgestel kon word nie. Die kans dat die medikasie kon help, was 50/50. So nie is daar niks wat die tremor kan beheer nie – dit sal net mettertyd erger word.

Elke oggend seweuur moes ek dieselfde woorde in ʼn boek skryf. Teen die vyfde dag is die dokter en sy span studente oortuig van besliste vordering. Die pil werk! (Terloops, na ongeveer sewe jaar het ek die dosis verminder en later gelos. Beweloos – halleluja!)

Toe kon ek weer op ʼn manier skryf – alhoewel my skrif en my skryfspoed verander het (ek het eers nogal mooi geskryf). Op dié stadium was tik “makliker” as skryf.

En nou? Wat van my belofte aan die Here?

Ek was, snaaks genoeg, rustig daaroor. Voordat jy begin skryf, is daar mos ʼn periode van groei en rypword. Wag vir die regte seisoen. (Ek is nie ʼn voorstander van die inspirasie filosofie nie – asof ʼn skrywer op ʼn sekere dag 12 minute oor 3 ʼn wacky gevoel kry wat jou na die rekenaar dryf. As jy dan jou vingers op die sleutelbord lê, my maat, dan vloei stro-o-o-me van seën uit jou kunstenaarsiel.)

Give me six hours to chop down a tree and I will spend the first four sharpening the axe.” ʼn Skerp beeld wat Abraham Lincoln gebruik om goeie voorbereiding te beklemtoon.

Natuurlik gaan almal nie deur dieselfde prosesse nie. In baie gevalle (dalk die meeste) is heelwat fondasiewerk reeds gedoen voordat jy kies om te begin bou. ʼn Groot deel daarvan kan onbewustelik wees of buite jou beheer. In my geval het dit voor geboorte al begin. Die klein fetus is bedraad om met woorde te kan werk. Soos Jeremia al voor sy geboorte sy aanstelling gekry het. En soos ons elkeen volgens God se plan gevorm word. Custom-designed, one-of-a-kind.

Dit het my laat besef dat God se wonderwerke nie altyd health & wealth is nie. Siekte of pyn kan ook ʼn wonderwerk wees waardeur Hy ons vorm. There is no growth without change; there is no change without fear or loss, and there is no loss without pain (Rick Warren).

DIS MY STORIE – 2: Die tikmasjien

DIS MY STORIE – 2: In sessie 1 het ek van my tremor vertel wat nie op medikasie wou reageer nie. Toe bid ek vir genesing en belowe om, as ek gesond word boeke te skryf wat kinders sal help om God beter te leer ken. Daarna wag ek vir my Vader se reaksie op hierdie rein gedagte.MyStorie 2

Maar dis toe nie asof ek ophou bewe nie, inteendeel. My skrif word later onleesbaar en my ouers kry nie meer briewe nie. Hulle stres.

My goeie man onthou toe die liefde moenie net lippetaal wees nie en hy gaan koop ʼn bargain by Antique Bargain Stores op die hoek van Kerk- en Venterstraat in Sterkstroom. ʼn ABC tikmasjientjie vir R110. Daai tyd was nuwes in die omgewing van R400.

Op dié manier leer ek toe myself tik. Antieke aanslag. Foute word uitgetippex deur ʼn stukkie tippexlint teen die papier te druk en dieselfde letter daarop te tik. So bleik jy die blaps.

Teen daardie tyd voel ek ook soos ʼn verbleikte blaps met ʼn selfbeeld so laag dat ek ʼn kite onder die mat kon vlieg. Dan wonder jy mos of dit vir enigiemand ongerieflik sal wees as jy van die aardbol afspring. Ja, jou kinders moet versorg te word en jou man het ʼn vrou nodig. Maar enigeen wat by haar volle verstand is sal mos vir so iets deug.

Met die vierde besoek verklaar die dokter emosieloos: “Jy sal maar vir ʼn tyd in die psigiatriese kliniek opgeneem moet word, ek kan niks meer vir jou doen nie.” (Hy weet toe nie van nóg sterker kalmeerpille nie, sien.)

ʼn Nag sonder slaap was nog nooit so donker nie. Daarby die onsekerheid of ek ooit weer sal kan skryf. Wat wil God vir my sê? Het ek Hom teleurgestel? Of straf Hy my omdat ek nie my skryftalent in sy diens gebruik nie?

Die volgende dag maak my goeie man summier vir my ʼn afspraak by ʼn ander dokter. Dié luister met belangstelling en besluit om nie impulsiewe afleidings te maak nie. “Heel moontlik is die tremor glad nie stresverwant nie. Ek ken ʼn neuroloog in Bloem en kry so gou moontlik vir jou ʼn afspraak.”

Ek vat toe die trein, want Pappa moet by die kinders bly en in sy vrye tyd die gemeente ook probeer gelukkig hou. Daardie tyd is die dominee gesien as die herder wat maar altyd in die skapies se gesigsveld moet wees. Party blêr ontstoke as hy hom buitekant die kraalmuur durf bevind.

My eerste ervaring in die neurologie-afdeling van die Nasionale hospitaal was nie positief nie. Dit was seker so vyfuur en ek besluit om nie nou al uit te trek en te gaan lê nie. Doen eers ‘n paar strekoefeninge. “En nou? Hoekom trek jy nie jou slaapkleertjies aan nie mevroutjie – jy gaan mos ʼn rukkie hier by ons bly? Toe kom ons wees nou nie moeilik nie.”

“Ons” hou toe nie daarvan om as breingestremd hanteer te word nie. Dit bring “mevroutjie” in die versoeking om die sonde van aanranding te pleeg met die doel om (tydelik) te elimineer. Maar darem kon ek staande bly teen hierdie wrede influisteringe van die bose. Toe bly ek ʼn week daar…

http://www.fxit.co.za

DIS MY STORIE – 1: Tremor en trauma

MY STORIE – 1:  Ek het sommer ʼn behoefte om my storie met jou te deel – die pad wat die Here met my geloop het om die FXit lesreeks te skryf. Dis ʼn langerige pad, daarom word die reis in ses fases of sessies gedoen.

MyStorie 1.png

“As ek jy is, gaan ek dokter toe. Sê nou dit word erger, wat dan?”

Vriende kuier by ons en ek skep rys in ons borde. Ek hou my regterhand se pols met my linkerhand vas. Dis egter nie goed genoeg nie, want ʼn paar ryskorreltjies kry vrolik koers en duik in die beker met vleissous. Ek kan verstaan dat my ritteltits my vriendin kan ontstel. Dit het my ouers, 900 km daarvandaan, ook onstel.

Vandat ek universiteit toe is, skryf ek en my ma elke week vir mekaar. (Ons het nie gebel nie; dit was te duur – ʼn tiekie vir drie minute het spandabel geklink.)

Soos wat die tremor vererger, so minder leesbaar word my skrif. Dit het my pa en ma in so ʼn mate geraak dat hy my eendag bel. “San, jy kan nie so aangaan nie, dit word dan al hoe erger.” My arme pa klink benoud. “Jy moet dadelik dokter toe gaan. Dis van senuwees dat jy bewe my kind, die vier kleintjies vat te veel van jou.”

Ja wel, was dit nie vir die vier kleintjies van tussen twee en ses jaar oud wat my geen kans vir ledigheid gegee het nie, was ek seker al by ʼn dokter. (Terloops, nommer vyf het besluit sy ma het langverlof nodig, want hy’t eers elf jaar later sy opwagting gemaak.)

Ek gaan toe maar dokter toe. “Mevrou,” verklaar hy plegtig met opgetrekte wenkbroue, “jou spanningsvlak is te hoog, waarskynlik as gevolg van ʼn oorvol program en oneffektiewe stresbestuur.” Hy skryf kalmeerpille voor. (Om te help met die oorvol program of om my stresbestuur te verbeter? Wonder ek toe by myselwers.) “Indien dit nie effektief is nie, sal ek jou graag binne ʼn maand weer wil sien.”

Dis toe nie effektief nie en na ʼn maand kry ek sterker kalmeerpille. Wat toe ook nie effektief is nie. Na die derde poging is ek nie meer weet wie ek is nie. Hang tussen niks en nêrens. Al wat verander, is dat ek nie meer gepla is nie. Kan nie worry nie, te danke aan die susmiddel.

Dit pla egter steeds die mense wat vir my omgee.

“Susan, jy moet eendag ʼn skrywer word,” onthou ek my taalonderwyser se woorde nadat ek twee keer in standerd nege opstelwedstryde op nasionale vlak gewen het.

Is dit dalk waarom ek nou nie meer kan skryf nie – straf God my? “Here,” belowe ek toe, “as ek eendag weer kan skryf, sal ek iets skryf wat kinders sal help om U beter te leer ken.” Ja ek weet, ek is nie die eerste een wat vir God ʼn guns vra in ruil vir ʼn teenprestasie nie. Seker maar “menslik” – veral wanneer jy in ʼn gat is?

Toe wag ek. En ek bid. En ek wag.

http://www.fxit.co.za

GRATIS: 3 Kersfeeslesse, gr R tot 6

‘n Kortreeks van drie lesse met PowerPoint is gratis beskikbaar. Bestel per e-pos by info@fxit.co.za.

Vir alle Christelike kerke en groepe vir Sondagskool/kategese, kinderkerk, skole, jeugdienste, kampe, tiener-kleingroepe, ens. Pryse vanaf R150 per reeks.

Maklik om voor te berei en lekker om aan te bied.

FXit programme bevat praktiese toerusting vir aanbieders asook hulpmiddels (prente, werkblaaie, PowerPoint, gespreksvrae en rollespel).

GRATIS: meer as 20 voorbeeldlesse: www.fxit.co.za.