Is alles reg met die erediens?

Dis tog eienaardig hoe dinge verander, dink ek die Sondag in die kerk. Dit was die begin van Junie en ʼn tipiese sonskyndag in Pretoria. Ons was in ʼn “ander” kerk vir ʼn spesifieke rede. Dit was ʼn gesinsdiens en ons ken die prediker.kerk

Ek kyk na die mense om my – hoe gemaklik almal met mekaar omgaan – en ek dink hoe het ‘n mens se siening van baie dinge verander. As kind is ek geleer die kerkgebou is die Here se huis (en hoor my lied, ek het dit geglo). Daar gedra jy jou anders as normaalweg. Jy praat nie, jy lag nie, jy trek spesiale klere aan en jy glo die dominee, al sê hy wat.

Ná kerk oor ʼn lekker koppie cappucino deel ons gedagtes oor ons ervaring van die diens. “Ek kan dit nie verstaan nie,” sê ek vir my man, “dat elke preek nie elke Sondag op dié manier gedoen kan word nie. Dis mos lekker.” (O ja, en kerk was nie lekker toe ek klein was nie.)

Die boodskap van dié dag is so aangebied dat dit oud en jonk se aandag boei. Suiwer Woorduitleg en -toepassing, maar só dat elkeen die betekenis vir hier en nou kan verstaan. Jy word deel van die Bybelkarakters se storie – jy stap in hulle sandale in Pretoria se strate.

Sulke goed laat my wonder oor wat die regte ding is. Tans is die erediens in die meeste kerke vir ʼn sekere generasie bedoel – breedweg beskryf as grootmense. Die res is elders – in ouderdomsgroepe verdeel.

In my kleintyd was dié soort segregasie nie eredienskultuur nie – dit was net sosiale kultuur. Kinders was nie deel van grootmense se geselskap nie. Ek onthou die kere wat ek wel binne hoorafstand was en die gesprek oor sekere sake soos swangerskap gegaan het, wat my ma sou sê “Bossies het ook ore.” Dan het hierdie bossie haar ore gespits, want dis ongeveer die enigste vorm van seksvoorligting wat haar beskore was.

Vandag is dit eintlik andersom. Sosiale kultuur sluit kinders in. Hulle bydrae in ʼn geselskap kry prioriteit. Jy’s nog besig om vir die vrou te verduidelik waar sy drie boksies tandepasta vir die prys van twee kan kry, dan draai sy haar kop weg om met al haar aandag na haar driejarige te luister.

So, waarom gebeur dieselfde generasievermenging nie ook in die erediens nie? Klein en groot praat mos dieselfde taal. Nou hoor ek mense sê die taal is te hoog. Of hulle sê die inhoud is onverstaanbaar vir kinders.

Die Bybel is deur volwassenes vir volwassenes geskryf. Die inhoud is egter vir klein en groot bedoel. Daarom is God se bedoeling dat ‘n leraar hierdie boodskap op ʼn verstaanbare manier aan klein en groot moet oordra. Of hoe?

Kom ons gesels hieroor. Dink jy die manier van Woordbediening is reg soos dit is, of wat alles behoort te verander?

Advertisements

Skrywer: FXit.lessewatleef

BA degree Stellenbosch: Afrikaans-Nederlands and French Two diplomas in children's ministry: Petra Institute for Children's Ministry and UNISA. Staying in Centurion, Gauteng, South Africa

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s